Instandhouding van Welvaart oor Generasies
(Ockie Olivier: Direkteur IIQ Konsultante)
Die aantal kommersiële boere neem jaarliks af. Hoewel die breë ekonomiese en politieke omgewing hiermee te doen het, is die kompleksiteit van opvolgbestuur ook ‘n groot faktor wat bydra tot die afname van kommersiële boerderye.

Die Uitdaging
Een van die uitdagings van ‘n gesinsboerdery is om te verseker dat elke generasie in ‘n posisie gestel word om suksesvol te wees. Hierdie proses wemel van emosionele, ekonomiese en finansiële realiteite wat dreig om goeie besluitneming te verongeluk. Die konflik tussen regverdigheid en finansiële sukses is altyd ‘n grys area.
- Ouers kan nie tussen hulle kinders kies nie.
- Moet die dogters dieselfde as die seuns behandel word?
- Is die boerdery vir die seuns ‘n passie ?
- Die pa is nog te jonk om die boerdery oor te gee aan die volgende bestuurders, terwyl die seuns alreeds naby die dertig is.
- Moet die seun wat langer boer meer bevoordeel word as die een wat korter boer?
Daar is nog talle ander vrae, situasiespesifiek, wat die opvolgproses bemoeilik. Hierdie dinamiek word verder gekompliseer deur toksiese verhoudings tussen pa’s, ma’s, kinders en skoondogters of skoonseuns.
In hierdie komplekse “pot” meng ook generasie-gapings, vrese vir voortbestaan, en diep vrae soos: “Is ek goed genoeg?” Baie keer ontken gesinne hierdie realiteite, rasionaliseer dit of veg en vlug-instinkte kom na vore. Die proses word dan eerder met emosie bestuur as met logika.
Is ‘n Opvolgplan Nodig?
Amerikaanse navorsing toon dat slegs ‘n derde van boerderye die oorgang na die tweede generasie oorleef, en net ‘n derde hiervan hou stand by die derde generasie.
Indien bogenoemde realiteite nie aangepak word nie, lei dit dikwels tot die verkoop van die grond, of tot ‘n voortdurende oorlewingstryd vol wrokke en skuldgevoelens wat permanente emosionele skade kan veroorsaak. Baie boere misluk nie omdat hulle nie kan boer nie, maar omdat hulle nie hul emosies kan bestuur nie. Besluitloosheid is dikwels vernietigender as swak besluite.
Die Gevaar
Suksessie is ‘n proses, nie ‘n gebeurtenis nie. Hoe vroeër daar begin word met ‘n opvolgplan, hoe beter is die kanse op sukses. Baie boere dink lank oor die opvolgproses, maar is traag om dit te implementeer, met verreikende gevolge. Dit is ondenkbaar hoeveel boerderye sonder ‘n duidelike plan voortgaan. Dit is hartseer dat sommige gesinne die realiteite ignoreer of gewilde, maar nie noodwendig regte besluite neem nie.


Ware Rykdom
Ware rykdom is waarskynlik geleë in die vermoë om jou talente en passies in te span om sodoende ‘n besondere kwaliteit lewe vir jou en jou gesin te skep. Ons verwar dikwels geld, grond en ander materiële dinge as die bron van ware rykdom. Materiële dinge is nie gelyk aan kwaliteit lewe nie. Statistieke wys daarop dat meer as 90% van persone wat groot geld wen, in afsienbare tyd in finansiële moeilikheid beland met baie tragiese gevolge.
‘n Boerdery kan hoogstens as ‘n katalisator dien om die gesin se vermoëns te stimuleer. Elkeen in die gesin is verantwoordelik vir sy eie sukses en ware rykdom.
Gelyk en Billik
Bill Gates het gesê:
“die lewe is nie regverdig nie -aanvaar dit so gou moontlik”.
Enige Opvolgplan kan hoogstens elemente van billikheid hê, maar sal nie noodwendig gelyk of regverdig wees nie. As regverdigheid die dominante dryfveer vir geluk en kwaliteit van lewe sou wees, moes ons almal dieselfde talente ontvang het.
Die Leeutrop-Analoog
‘n Gesin kan vergelyk word met ‘n leeutrop. Die belangrikste eienskap van ‘n leier leeumannetjie is dat hy nie vreemdes verdra nie en met ‘n ysterhand regeer. Dit is ook so dat elke leier leeumannetjie een of ander tyd van sy troon gestoot word en selfs doodgemaak word.
Die pa neem verantwoordelikheid van sy gesin. Die kinders word gekoester (0 tot 10 jaar) en daarna word hulle opgelei en afgerig (10 tot 24 jaar). Daarna is hulle self vir hulle eie lot verantwoordelik. Hoe jonger die kinders is, hoe groter is die drome. By mense is die kinders egter nie bereid om die inisiatief te neem om die pa uit te skuif soos by die jong leeus nie. Hierdie toedrag van sake lei dikwels dat beide die pa en die seuns gefrustreerd raak. Die pa wil hê die seun moet verantwoordelikheid neem, terwyl die seun nie besluite wil neem wat die pa se toekoms beïnvloed nie. As die seuns ouer as dertig word, neem hulle drome af en raak hulle maar net handlangers (diensknegte) van die pa.
Om al hierdie misverstande uit te skakel, is dit gewens dat die ouers ‘n Opvolgdatum bepaal en ‘n Opvolgplan op die tafel sit. Die kinders kan derhalwe hulle posisioneer en toekomsbesluite neem.‘
Uit my ondervinding is dit nie gewens dat die kinders net na skool of ander formele opleiding dadelik plaas toe kom nie. Dit is baie beter dat kinders in hulle eie reg eers lewensondervinding opdoen in ander omgewings en dan as selfstandige mens die boerderybestuur binne ‘n periode van drie jaar oorneem op grond van die Opvolgplan op die tafel. Die kinders moet so gou as moontlik blootgestel word aan die finansiële uitdagings van die boerdery, deur of ‘n winssentrum vir eie gewin in die boerdery bestuur, of die boerdery as geheel te bestuur.

Ekonomiese Realiteite
Tegnologiese ontwikkelings soos bestuurspraktyke, voertuie, rekenaars, radio’s, selfone en vele ander hulpmiddels bring mee dat boere al hoe groter oppervlaktes doeltreffend kan bestuur, alhoewel die vlak van kundigheid voortdurend styg.
Die platteland se infrastruktuur in terme van skole, banke en sake ondernemings is vanaf 1994 onder druk. Trouens die besteding aan privaatuitgawes het dramaties toegeneem in die laaste 10 jaar.
Wat Wil Die Gesin Bereik Met Die Opvolgplan
‘n Goeie Opvolgplan het tot gevolg dat die boerdery kan groei van generasie tot generasie en ‘n bydrae tot die kwaliteit van lewe van elke gesinslid. Die ideaal is dat ouers, broers en susters onafhanklik van mekaar hulle lewe voer. Die Opvolgplan verminder onsekerhede en gee lede van die gesin tyd om te deel met die harde werklikhede van suksessie.

Die Sleuteleienskappe Van ‘n Weldeurdagte Opvolgplan
- Ongewilde Besluite: In elke Opvolgplan is daar ongewilde besluite. Dit is noodsaaklik dat hierdie ongewilde besluite geneem word.
- Bepaal datums: Daar moet so gou as moontlik datums bepaal word, wanneer die oorgang en gepaardgaande aksies gaan plaasvind.
- Vroegtydig: Die nageslag wat gaan boer hoef nie pertinent geïdentifiseer te word voordat met die plan begin word nie.
- Nie verpligte opvolging: Nie een van die kinders hoef te kom boer nie. Die Opvolgplan kan voorsiening maak vir die bestuur van die grond ten voordele van die nageslag.
- Finansiële Voorsiening: Die ouers se finansiële behoefte moet bepaal word om sodoende voldoende voorsiening te maak tot hulle afsterwe.
- Belastingimplikasies: Die boedelbelasting en kapitaalwins implikasies moet beraam word van beide die boer en sy vrou se boedel.
- Die Finansiële vohoubaarheid van die boerdery: Die langtermyn inkomste potensiaal van die boerdery moet bepaal word.
- Oordrag van bates: Die verskillende metodes van die oorgang van bates, veral grond, na die nageslag moet bepaal word.
- Kommunikasie: Kommunikasie en nogmaals kommunikasie met alle belange groepe moet deel vorm van die Opvolgplan.

Kundigheid Benodig in die Opstel van ‘n Opvolgplan
- Menslike hulpbron kundigheid: Die evaluasie van die opvolgers se belangstellings en vermoë moet deel vorm van die Opvolgplan.
- Fasiliteringskundigheid: Die gesin moet deur die verskillende slaggate in die Opvolgproses navigeer word om sodoende suksesvolle oorgang te verseker.
- Landbou-ekonomies: Die keuse van die aantal gesinne wat die boerdery kan onderhou en die uitvoerbaarheid van die grondoordragplan moet bevestig word.
- Rekenkundig: Die berekening van alle rekenkundige en belastingimplikasies.
- Regskundigheid: Die opstel van die nodige regsdokumente soos testamente, kontrakte en die opstel van trustdokumente.
- Versekeringskundigheid: Die evaluasie van die verskillende lewensdekking en annuïteit produkte.
Wie Inisieer die Opvolgproses
Dit is altyd die boer (pa) se verantwoordelikheid om die Opvolgproses te begin. Hy sal sy gedagtes vorm met breë riglyne en dit aan sy gesin kommunikeer. Ek vind dat dit in die praktyk baie moeilik vir ouers is om tussen hulle kinders te kies. Dit is hier waar die kinders dan ‘n leidende rol kan speel in die ontwikkeling van die Opvolgplan. Trouens die opvolgers is verantwoordelik vir uitvoering van die plan.
Posisionering Van Die Opvolgers
Een van die grootste slaggate wat die Senior generasie in trap, is om hulle kinders te vinnig by die boerdery betrokke te maak. Die beginsel is dat klein bome nie onder groot bome groei nie is hier van toepassing. Die Junior generasie word dikwels as werkers aangewend in plaas van sake-eienaars.
- Waardes: Die boerdery se waardes moet veral deur die Senior generasie bevestig word.
- Visie: Die visie van die boerdery – Watter behoefte in die mark is ons fokus en wat wat wil ons bereik.
- Opleiding en Bemagtiging: Hoe word die opvolgers opgelei om hulle spesifieke rolle en verantwoordelikhede te vervul
- Ondervindig: Die Junior generasie moet eers onafhanklik suksesvol in ‘n beroep vestig alvorens hulle in die boerdery ingetrek word. Dit hoef nie noodwendig in die Landbou te wees nie.
‘n Stuiwer in die armbeurs: ‘n Goeie ouderdom om die Junior generasie te betrek is ongeveer op ʼn ouderdom van 26 tot 30 jaar. Die Junior generasie het homself reeds bewys en word betrek as ‘n Sake-eienaar.
Kortom – Die Junior generasie wat kom boer moet ‘n Sake besluit neem om te kom boer, nadat hy of sy die totale implikasies van die opvolgplan geevalueer het. Die besluit moet gebaseer word op realiteite en nie net emosioneel nie.

Samevatting
Die bestuur van opvolging of suksessie is een van die sleuteluitdagings van enige boer. ‘n Goed uitgewerkte opvolgplan verseker nie net die voortbestaan van die boerdery nie, maar dra ook by tot die gesin se emosionele welstand. ‘n Betroubare fasiliteerder wat hierdie proses verstaan, is van onskatbare waarde vir die gesin.

